Malema se dissiplinêre verhoor uitgestel tot 11 September

ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC het in ʼn verklaring bekendgemaak dat die dissiplinêre verhoor van sy jeugligaleier, Julius Malema, en vier van sy kollegas op 11 September sal voortgaan.

Die ANC sê in die verklaring die uitstel is as gevolg van die beskikbaarheid van partye wat by die verhoor betrokke is. Malema, Kenetswe Mosenogi, Puli Mabe, Sindiso Magaqa en Ronald Lamola se verhoor sal op Sondag 11 September voortgaan terwyl daar nog nie ʼn datum vasgemaak is vir die verhoor van die jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, nie. Die ANC het Vrydag bekendgemaak dat Malema se aansoek om die klagtes teen hom ter syde te stel, verwerp is en dat sy verhoor Maandag sou voortgaan. Malema en sy kollegas word daarvan aangekla dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai. Die jeugliga het onlangs ʼn verklaring uitgereik waarin hy gesê het hy sal ʼn span na Botswana stuur om regime-verandering in die land te weeg te bring. Indien Malema skuldig bevind word kan hy sy ANC-lidmaatskap kwyt wees en dus ook nie meer as jeugligaleier dien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.