Malema se dissplinêre verhoor tot 26 Oktober uitgestel

ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, se dissiplinêre verhoor sal op 26 Oktober voortgesit word, wanneer finale getuies na verwagting sal getuig.

ʼn ANC-woordvoerder, Keith Khoza, sê die verhoor sal ná die 26ste verdaag word. Hy sê finale argumente en aanbevelings sal na afloop hiervan aan ANC-beamptes gemaak word op 3 November. Die hoof van die ANC se dissiplinêre komitee, Derek Hanekom, sê elke lid wat aangekla is sal hierna die beslissing ontvang. Hy sê ‘n verslag sal aan die sekretaris generaal oorhandig word waarna die komitee se besluit aan die media en publiek gekommunikeer sal word. Volgens berigte sal Winnie Madikizela-Mandela en Tony Yengeni, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, getuig wanneer die verhoor op die 26ste hervat word. Khoza kon dit egter nie bevestig nie. Malema en vyf van sy kollegas word daarvan aangekla dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai.

Die minister van huisvesting, Tokyo Sexwale, het Saterdag vir die verdediging getuig. Dit kom nadat Sexwale verlede week gevra het dat daar “genade getoon word” vir Malema. Malema was teenwoordig by Saterdag se verhoor nadat hy vroeër in die hospitaal opgeneem is vir erge griepsimptome. Die verhoor het reeds einde Augustus begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae