Malema se huis dalk binnekort opgeveil

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, voormalige ANC-jeugligaleier, se halfgeboude huis in Sandown, Johannesburg gaan glo volgende maand onder die hammer kom.

Pieter Geldenhuys, ʼn woordvoerder vir Bidder’s Choice, het aan die Sunday Times gesê die huis is ʼn onthaler se droom. Die drieverdieping-huis gaan glo op 9 Mei opgeveil word. Malema het die huis glo in 2009 vir R3,6 miljoen gekoop. Die bestaande huis is platgeslaan en Malema het ʼn nuwe huis met onder meer vier slaapkamers, vier badkamers, ʼn swembad, ʼn jacuzzi, ʼn wynkelder en ʼn hysbak begin bou.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Pretoria vroeër die maand ’n voorlopige hofbevel wat op 5 Maart teen Malema ingedien is ’n permanente hofbevel gemaak het. Die bevel baan die weg vir die verkoop van Malema se bates. Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vroeër ʼn sekwestrasie-aansoek teen Malema ingedien het. Hy skuld die SAID glo R16 miljoen. Malema het na bewering verlede maand se spertyd om die SAID se aansoek teen te staan gemis. Daar is reeds vroeër beslag gelê op Malema plaas en sy huise in Sandton en Polokwane. Daar is ook ʼn veiling van sy roerende bates gehou. Malema moet ook later die maand weer in die hof verskyn op aanklagte van geldwassery, rampokkery en korrupsie wat verband hou met sy Ratanang-familietrust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SANETTE HENNING ·

Jan Taks sien en weet van alles en sal jy nie wegkom nie neeeeee Malema jy is vas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.