Die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema, beweer sy lewe is in gevaar weens ʼn sameswering deur president Jacob Zuma en verskeie ministers.
“Indien ons more of binnekort doodgaan, is ons deur Jacob Zuma en sy mense doodgemaak,” het Malema Dinsdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Indien ons more onwettiglik in hegtenis geneem word, sou ons in hegtenis geneem word deur Jacob Zuma.” Malema het Zuma daarvan beskuldig dat hy handlangers gebruik om hom te isoleer aangesien hy gesê het Zuma is nie in staat om die land te regeer nie. “Nou dat ons die vertroue van gewone mense op die grond het, gebruik Zuma soldate en die polisie om ons bewegings te blok en ons van die oppervlak van die land te verwyder. ʼn Doodslasbrief is uitgereik teen ekonomiese vryheidsvegters wat namens die mense praat.”
Malema het weer ʼn beroep gedoen op Zuma om te bedank. Hy het Jeff Radebe, minister van justisie, daarvan beskuldig dat hy op wet en orde fokus aangesien sy vrou en sy swaers, Cyril Ramaphosa en Patrice Motsepe, mynbelange het. Malema se hulle behoort aan ʼn “swart elite” wat voordeel trek uit mynbedrywighede in Suid-Afrika. Hy sê sedert Zuma president is, was daar die bekendstelling van ʼn diktatorskap en onverdraagsame vorme van leierskap. Malema sê Zuma is ʼn aanspreeklikheid vir Suid-Afrika en die ANC.