
Julius Malema by die bekendstelling van die EFF Foto: Werner Beukes/SAPA
Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF) voer aan die belastingsaak teen hom is ‘n polities gemotiveerde sameswering van ‘n groep Indiërs wat kop in een mus is met Afrikaners, berig die Sunday Times.
“Ek is blootgestel aan vervolging deur politieke leierskap wat onder leiding van Pravin [Gordhand, minister van finansies] staan, met sy groep Indiërs,” het Malema aan die koerant gesê. “Dit is ‘n klein groepie Indiërs wat kop in een mus is met ‘n groep Afrikaners in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens [SAID], en Afrikaners in die regsgemeenskap.”
Hy voer aan die “klein groepie Indiërs” het ‘n “politieke program” teen hom. “Die Afrikaner streef ‘n rassehaat na teen Julius en dit wat hy voor staan,” het hy gesê.
Malema se huis in Polokwane is Dinsdag op ‘n veiling vir R1.4 miljoen verkoop. SAID het begin om Malema se eiendom te verkoop in ‘n poging om sy R16 miljoen skuld te delg. Sy onvoltooide huis in Sandton is in Mei vir R5.9 miljoen verkoop. Sy plaas in Limpopo het in Junie R2.5 miljoen op ‘n veiling gehaal. ‘n Gedeelte van sy huisraad is ook vroeër op ‘n veiling verkoop.
Malema staar ook aanklagte van korrupsie in die Polokwane-landdroshof in die gesig. Hy word daarvan beskuldig dat hy nagenoeg R4 miljoen uit korrupsie verdien het en is op borg van R10 000 vrygelaat.
-SAPA
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Malemma bly darem ‘n kwaadstoker!
Dis nie die Afrikaners wat hom geskors het nie, ook nie die Indiërs nie. Dit was die ANC.
Hy word vervolg oor hy korrup verby is.
Spr 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:
6:17 trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
6:18 ‘n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
6:19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
Nee meneer Malema. U het vele vyande. Talle van hulle is ook in die ANC, u ou party dus wat u nie te lank gelede nog nie met passie gesteun het.
En as hy sy sin kry, dan kan hy mos sy huise, meubels en plaas weer terug vat sonder vergoeding!!
Kan mens regtig so arrogant wees. Nee Julla jy gaan nog sit, dan kan jy maar die tronkowerheid gek maak!
Wat hy nie wil besef, is dat hierdie probleme deur homself veroorsaak is.
Dit is almal se skuld behalwe syne. Klink bekend! Dit is nie net hy maar so baie ander wat graag die skuld op iemand anders pak.