Malema se party glo “politieke selfmoord”

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Fikile Mblalula, minister van sport en ontspanning, reken Julius Malema se plan om ‘n nuwe politieke party te stig is “politieke selfmoord”.

“As ‘n kader wat deur die ANC opgelei word, is die stig van ‘n politieke party buite die ANC politieke selfmoord,” het Mblalula aan Sunday Independent gesê. “Dit word uit woede en nie uit noodsaak gedoen nie. Net omdat jy ontevrede is oor individue in die ANC kan nie tot die stigting van ‘n politieke party lei nie.”

Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, het vroeër die week aangekondig dat hy ‘n nuwe politieke platform, naamlik die Ekonomiese Vryheidsvegters, gaan stig.

Beeld-koerant het berig dat Malema ‘n e-pos uitgestuur het om sy planne aan te kondig. In die e-pos het hy glo diegene, wat in sy onderneming belangstel, aangeraai om hom deur middel van e-pos of sosiale netwerke te kontak. Hy nooi ook ondersteuners om met voorstelle oor finansiering vorendag te kom.

Mblalula het aan die Sunday Independent gesê hy het “geen plan om by enigiets aan te sluit nie”.

Clifford Motsepe, LUR vir menslike nedersetting in Limpopo, het aan die koerant gesê hy en Malema kan steeds vriende bly, maar hy sal nie sy politieke ambisie steun nie. “Ek sal nog algemene takvergaderings saam my kleinkinders bywoon en wanneer ek in my kis lê sal hy in die swart, geel en groen-kleure drapeer wees,” het Motsepe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Fikile Mbalula, die ANC-minster van Sport, is dalk nie in die kol met sy bewering oor die te stigte politieke party van Julius Malema nie – eerder ietwat bang daarvoor omdat die ANC juis tans interne woelinge beleef – veral wat sy alliansievennoot Cosatu aanbetref. Verder is daar ook ander verwikkelinge op die politieke front – die DA is baie aktief en die stigting van Agang is om die draai – alles faktore wat die ANC bekommerd kan maak, veral verder teen die agtergrond dat hy wyd deur ekonome en beleggers gekritiseer word vir swak regering.

Wat Julius Malema aanbetref, het hy ‘n baie radikale en revolusionêre siening en maak geen geheim daarvan dat hy voornemens is om groot multi-nasionale ondernemings te nasionaliseer en kommersiële plase sonder vergoeding af te neem nie. Dis vir die deursnee oningeligte – en daar is massas oningeligtes in Suid-Afrika – mooiklinkende idees want daarmee saam gaan natuurlik die vooruitsig van rykdom en voorspoed vir almal. Malema se planne sal oor die lang termyn nooit suksesvol kan wees nie maar op die oor van die massas armes, klink dit goed en gaan dit ‘n populêre boodskap wees. Die verdere voordeel van ‘n nuwe politieke party op linkerkant, is dat dit die ANC verder kan verdeel en dus verswak en sodoende gaping laat vir die huidige opposisie om veld te wen.

Gee maar vir Julius kans met sy aspirasies – dis dalk ten goede vir Suid-Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.