City Press berig dat die 140-hektaar plaas op 10 Junie opgeveil sal word om ’n deel van Malema se R16 miljoen-skuld aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te verhaal. Die Batebeslagleggingseenheid het op 19 Maart op die plaas, wat glo sowat R4 miljoen werd is, beslag gelê. Medupe Simasiku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het destyds gesê die plaas is glo verkry met die opbrengs van bedrog, korrupsie, diefstal en geldwassery.
Volgens Park Village Auctions het die plaashuis vier slaapkamers, ʼn sit- en eetkamer, ʼn patio, kombuis met opwaskamer en ʼn studeerkamer. Daar is ook ʼn grasdak rondawel, swembad, ʼn werkswinkel en ʼn onvoltooide tweede huis op die eiendom. Malema skuld die SAID nog sowat R9 miljoen. Malema se halfgeboude huis in Sandown, Johannesburg is Donderdag vir R5,9 miljoen verkoop op ʼn veiling.