Malema se plaas verkoop

Julius Malema

Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, se kool- en tamatieplaas in Limpopo is Maandag vir R2.5 miljoen op ‘n veiling verkoop.

Calli Calitz van Wencor Holdings, ‘n abattoir in Polokwane, het dié aanbod gemaak. Die afslaer het die aanbod vir die 140 hektaar-plaas, wat R4 miljoen werd is, op R800 000 begin. Die enigste vroulike bieër wat in die Schuilkraal-plaas belanggestel het, het oorgegee toe die bedrag R1.5 miljoen bereik het.

Vyftien ander bieërs het aan die veiling deelgeneem.

Park Village-afslaers het gesê die plaashuis het vier slaapkamers, ‘n oopplan sitkamer, toegeboude patio, kombuis met waskamer en ‘n klein studeerkamer. Daar is ook ‘n lapa, ‘n swembad en motorhuiswerkswinkel. Daar is ook ‘n halfgeboude tweede huis op die erf.

‘n Batebeslagleggingseenheid (AFU) het in Maart beslag gelê op die plaas as deel van ander bates van Malema wat verkoop word in ‘n poging om sy uitstaande belasting af te betaal. Die AFU het beslag gelê op die plaas, aangesien hy van mening was dat die plaas met geld, wat uit misdaad voortgespruit het nadat ‘n tender van R52 miljoen aan On-Point Engineering toegeken is, aangeskaf is. Malema se Ratanang Familietrust het aandele in die maatskappy.

Medupe Simasiku, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die eiendom is glo aangeskaf met die opbrengs van bedrog, korrupsie, diefstal en geldwassery.

Malema se halfgeboude eiendom in Sandown, Johannesburg, is verlede maand vir R5.9 miljoen op ‘n veiling verkoop.

Die opbrengs uit die veilings sal gebruik word om uitstaande belastinggeld, wat tans ongeveer R7 miljoen beloop, te betaal. Dié bedrag was aanvanklik R16 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.