Malema sê SA’ners moet besluit hoe hulle jeens rassiste gaan optree

Julius Malema

Julius Malema, die geskorste leier van die ANC-jeugliga, sê hy het nie ʼn probleem daarmee dat ʼn foto van hom onder ʼn foto van ʼn apie in ʼn Bloemfonteinse klaskamer opgeplak is nie, het The Sowetan Donderdag berig.

“Hulle kan dit maar doen, dit skok my nie meer nie,” het Malema glo gesê. “Ons is daagliks blootgestel aan die harde werklikheid van apartheid. As jy ʼn rassistiese houding toon, mors ek nie my tyd nie. Ek hanteer dit dadelik, omdat ek weet dit is hoe hulle grootgemaak is.”

Volgens die Sowetan sê Malema verder Suid-Afrikaners moet ʼn houding van “spring of gedra jou” teenoor rassiste handhaaf.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het Maandag gesê hy ondersoek bewerings van rassisme by ʼn skool in die Vrystaat. “Daar was klagtes dat van die kinders in die skool k****** genoem is,” het Isaac Mangena, woordvoerder vir die MRK, gesê.

Leonard McKay, ʼn graad 6 en 7 onderwyser aan die Wilgehof Primêre Skool, vertoon glo ook die ou Suid-Afrikaanse vlag in sy klaskamers as deel van sy “lesse”. Hy het glo ook na bewering Malema se foto onder die foto van die apie geplak. Volgens die Sowetan verskyn die woorde: “Primitiewe breine laat apies slegs toe om vreemde uitdrukkings te maak wanneer hulle wil praat,” onderaan die foto van die apie.

Die MRK sê hy het ʼn inspeksie by die skool gedoen nadat ʼn wit leerling se ouer ʼn klag gelê het. Die SA Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu) het Woensdag gesê rassisme is volop in Vrystaatse skole en versoek dat ʼn ondersoek uitgevoer moet word oor rassisme in skole in die provinsie.

Die Sowetan berig verder Howard Ndaba, die woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, het gesê McKay is tydelik geskors hangende die uitkoms van ʼn ondersoek.

Lees ook:
Skool ondersoek oor die k-woord, Malema en ou vlag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henry ·

Askies hy is die grootste rasis, as hy tolerance vir sy medemens getoon het sou die met die denke om verder te dink hom omhels het, maar hy en sy tiepe stoot net mense in suid afrika verder uit mekaar uit. Ek is baie oop vir baie dinge maar ek werk met sy tiepe en ek word automaties as rasis gesien omdat ek wit is, ek dink baie wit mense kan verby kleur sien maar baie swartes kan nie as gevolg van apartheid, plaas hul kyk na europese lande en hoeveel mense hul manier van dinge sien verander het, asof rasisme ons grootste evil is. Ons grootste evil is die klomp wat bo sit en die land leeg tap tot daar niks is, dan word iets primitief soos vel kleur gebruik om mense teen mekaar te hou omdat ‘n land wat saamwerk nie so iets sou dult nie.

Trudie ·

Hulle diskrimineer elkedag teen witmense , werk, leer ,op alle vlakke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.