Malema se skorsing bekragtig

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC se nasionale appèlkomitee (NATK) het Dinsdagaand laat aangekondig dat die beleërde ANC-jeugligaleier, Julius Malema, uit die regerende party geskors is.

“Met verwysing na die huidige dissiplinêre verhoor, bekragtig die NATK die straf wat deur die Nasionale Dissiplinêre Komitee (NDK) opgelê is dat die appellant uit die ANC geskors word.” Malema is oorspronklik vir vyf jaar geskors nadat hy skuldig bevind is daaraan dat hy die ANC in oneer gebring en verdeeldheid in die party gesaai het. Hy het appèl aangeteken en daar is besluit dat hy redes om versagting kon aanvoer aan die NDK. Die NDK het egter hierna besluit om hom permanent uit die party te skors. Malema het weer appèl aangeteken en dit is die appèl wat nou deur die NATK van die hand gewys is. Malema is vroeër die maand tydelik uit die party geskors na aanleiding van sy opmerkings wat hy by Wits Universiteit gemaak het dat president Jacob Zuma ‘n diktator is. Die tydelike skorsing het beteken dat Malema geen ANC vergaderings, insluitend die van die nasionale uitvoerende komitee mag bygewoon het nie. Malema het verlede maand gesê dat hy die howe sal nader indien hy finaal uit die party geskors word. Hy kan ook die ANC se nasionale uitvoerende komitee vra om die beslissing te hersien. Indien dit ook nie slaag nie kan Malema probeer om die saak bespreek te kry by party se verkiesingskonferensie in Mangaung in Desember.

Die NATK het ook die ANC-jeugliga woordvoerder, Floyd Shivambu, se appèl van die hand gewys en sy lidmaatskap vir drie jaar opgeskort. Die jeugliga se sekretaris generaal, Sindiso Magaqa, se appèl is ook van die hand gewys en sy lidmaatskap is vir een jaar opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.