Malema se toekoms

ANC-jeugligaleier Julius Malema is gestroop van sy amp en lidmaatskap tot die ANC-party, het die nasionale tug-appèlkomitee (NDCA) beslis.

Die NDCA volstaan by die ANC se nasionale tugkomitee (NDC) se beslissing oor Malema verlede jaar. “Enige straf wat die NDC opgelê het wat tot die opskorting van lidmaatskap of verbanning uit die party gelei het sal op die appelleerde se lidmaatskap tot die ANC-jeugliga van toepassing wees,” het Cyril Ramaphosa, voorsitter van die NDCA Saterdag gesê. Voormalige woordvoerder van die jeugliga, Floyd Shivambu, sal ook sy pos onmiddellik moet verlaat. Ramaphosa het gesê die NDC sal die vonnisse nasien. Beide die ANC en die appelleerdes sal hul argumente in hierdie verband by die NDC kan indien.

Die vonnis teen die jeugliga se sekretaris-generaal Sindiso Magaqa dat hy moontlike lasterlike uitlatings gemaak het, is deur die NDCA bekragtig. Hy is aangesê om binne vyf dae vir sy “neerhalende” uitlatings om verskoning te vra vir Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, of hy sal vir 18 maande geskors word. Magaqa het Gigaba aangekla dat hy “imperialistiese simpatie” toon nadat Gigaba die jeugliga gekritiseer het oor sy uitlatings dat myne genasionaliseer moet word.

Die NDC het Malema verlede jaar skuldig bevind dat hy ernstige verdeeldheid onder lede van die ANC saai en dat hy die party se naam skade berokken. Malema het gesê die liga sal ʼn span na Botswana stuur om die plaaslike opposisie-partye te konsolideer en sodoende ʼn regimeverandering mee te bring.

Adjunk-president Ronald Lamola, tesourier-generaal Pule Mabe en adjunk-sekretaris-generaal Kenetswe Mosenogi is saam met Malema, Shivambu en Magaqa aangekla.

Malema se toekoms (soos berig deur EWN):
Die omstrede leier se skorsing neem onmiddellik ʼn aanvangs en al wat hy kan doen is om te argumenteer dat hy nie geskors moet word nie, ten spyte van die skuldigbevinding. Aanklaers sal egter teen ʼn versagtende vonnis argumenteer. Volgens die aanklaers was Malema reeds in 2010 volgens sy opgeskorte vonnis gewaarsku om nie meer só op te tree nie. Dit maak dus nie saak wat in die NDC-verhoor plaasvind nie, die vorige vonnis sal onmiddellik in werking tree. Dit beteken dat Malema vir ten minste twee jaar geskors sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.