Die Sunday Times berig Malema het die lied verlede naweek tydens sy vriend, David Mabilu, se troue gesing. Volgens die koerant het Malema Sondagaand die lied gesing terwyl gewilde platejoggies die nagenoeg 300 gaste vermaak het. Malema het glo eers geweier om die lied te sing maar is later glo oorreed. Die platejoggies het glo geskree “wat in Mauritius gebeur, bly in Mauritius” en “Mauritius is nie Suid-Afrika nie”. Toe die koerant Malema om kommentaar nader het hy glo gesê dat hulle baie liedjies gesing het en dat hy nie regtig kan onthou of hy dit gesing het nie. Hy meen egter indien hy die lied gesing het, dit nie onwettig was nie aangesien daar appèl teen die beslissing aangeteken is en dit nog nie aangehoor is nie. Die konstitusionele hof het die week Malema se aansoek om direkte appèl van die hand gewys.
Intussen word daar ook berig dat Mabilu, ‘n sakeman van Limpopo, by meer as een geleentheid geld in Malema se Ratanang-familietrust inbetaal het. City Press het vroeër vanjaar die bestaan van die trust onthul. Dit is glo gebruik om onwettige staatstenders te bekom. Die trust maak deel uit van die ondersoek deur die Valke na Malema se finansiële belange.