Malema spreek die skare toe by EFF-bekendstelling

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Honderde ondersteuners van die Economic Freedom Fighters (EFF) het Sondag die bekendstelling van dié politieke party by die Nkaneng informele nedersetting in Marikana, Noordwes, bygewoon.

Lede het met die kenmerkende rooi barette en T-hemde opgedaag en op ‘n koppie na Julius Malema, leier van EFF, sit en luister. “’n Ander tipe baba is vandag gebore. ‘n Reus. ‘n Kind wat dadelik kan loop. ‘n Baba wat veg vir jou lewensloon. Jy moet bang wees vir daardie kind,” het Malema gesê.

Hy sê EFF is ‘n huis vir die weeskind. “Dis ‘n huis vir die hopelose,” het hy gesê terwyl die skare hom toegejuig het. Hy sê EFF is nie bang om wit base te konfronteer wanneer hulle nie hul werkers betaal of hulle mishandel nie. “Julle moet teen dié mishandeling baklei, of Julius Malema nou daar is of nie. Jy moet ‘n Malema by jou werksplek wees.”

Hy sê die polisie moet hul uniforms uittrek wanneer hulle aangesê word om onskuldige mense dood te maak. “Gee vir hulle hul uniforms en wapens. Sê vir hulle jy wil nie ‘n bloedbevlekte salaris hê nie.” Hy het verwys na die afsterwe van 34 mynwerkers tydens ‘n staking in Augustus 2012 in Marikana.

Malema doen ‘n beroep op onderwysers om skoliere eers te leer en dan buite skool-ure te staak. “Wanneer jy ná skool staak, sal die kinders by jou aansluit.”

Hy sê die grond van Suid-Afrika behoort aan diegene wat nie grond het nie. “Hierdie is jou land. Jy [diegene wat nie grond het nie] hoef nie te betaal vir die grond nie. Dit is reeds deur die sweet van jou vaders betaal.” Hy sê wit Suid-Afrikaners weier steeds om grond te oorhandig wat hulle “deur diefstal geërf het”. “Witmense is selfs vandag nie skaam om ons mense dood te maak nie. Hulle wil hê ons moet voor hulle kniel. Ons gaan dit nie doen nie. Ons gaan nie smeek vir ons land nie. Bring terug die land.”

Hy het gesê die skare moet vir ‘n ware president stem, en nie ‘n danser nie. “Weier om vir ‘n sanger en ‘n danser te stem. Ons wil ‘n denker hê wat die beleide van ons land kan dryf. Ons wil nie ‘n ou man hê wat dans soos ‘n tiener nie. Elke keer wanneer hy dans dan kyk die ouer mense in skaamte na hom,” het Malema gesê.

Die skare het hierop reageer deur met hulle hand in ‘n sirkelbeweging te wuif, ‘n gebaar wat ‘n behoefte aan verandering beteken. “Ons moet die beeld van Suid-Afrika herstel.”

Malema het om verskoning gevra aan Suid-Afrikaners omdat Jacob Zuma president is. “Ek vra om verskoning dat ek ‘n middelmatige nie-denker en nie-leser vir julle gegee het. Ons moet stem vir staatsmanne, ons moet stem vir die herstel van die beeld van Suid-Afrika.”

Malema het onderneem om die Gupta-familie te laat betaal dat hulle die land in die skande gebring het, insluitend die omstrede landing van ‘n vliegtuig by Waterkloof-lugmagbasis. Hy sê sodra die EFF aan bewind is sal hulle “gestraf” word vir al hulle “oortredings”.

Hy het sy toespraak afgesluit deur die omstrede “skiet die Boer”-liedjie te sing. Die skare het “Juju! Juju!” geskree nadat hy gepraat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius Vermaak ·

Ek het vanoggend langs twee busse gery wat oppad was na die “geboorte” van “goliat” Jong lawaaierige “kinders” het by die vensters uit gepeul met hul rooi barette en geskreeu. Ek is seker daarvan dat hulle niks van politiek weet nie. Soos die spreekwoord sê “Leë blikke maak die grootste lawaai” Dawid is in die omgewing!!

Delene Pienaar ·

George Carlin het gesê: ” Never underestimate the power of stupid people in large groups!”

Net-Ekke ·

Ek is seker sy oom z gee hom tou, totdat hy homself gaan hang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.