Malema ‘steek bates weg’

Julius Malema Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, het moontlik van sy bates weggesteek om seker te maak dat dit nie op ‘n veiling verkoop word nie.

Die Sunday Independent het Sondag berig dat Malema se huishoudelike inhoud Vrydag op ‘n veiling in Polokwane vir sowat R54 000 verkoop is. Dit is sowat ‘n vyfde van die waarde van sy Breitling-horlosie. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) poog om sowat R16 miljoen in te samel, wat Malema glo in belastinggeld skuld. Die SAID beweer Malema se saketransaksies strook nie met sy belastingopgawes nie.

Die koerant het glo in Januarie berig dat Malema, volgens ‘n ouditverslag van PwC sowat R291 000 op klere by ‘n Italiaanse boetiekwinkel en meer as R31 000 by Louis Vuitton vir ontwerpersklere spandeer het. Malema se horlosie en ontwerpersklere was glo nie by die veiling te sien nie. Bates wat verkoop is, sluit ‘n klavier, yskaste, muureenheid, televisiestelle en kanttafels in.

Norman Motaung het die klavier vir R9 300 gekoop, berig Sunday Sun. “Ek het nie die klavier gekoop weens die vorige eienaar nie,” het Motaung gesê.

Een van Malema se voormalige vriende, Boy Mamabolo, het ‘n spieël vir R300 gekoop. Hy het aan die koerant gesê Malema het in 2009 beloof om die spieël vir hom te gee, maar het toe van plan verander. “Ek probeer die SAID help om hul geld terug te kry. Maar ek is teleurgesteld dat die Pioneer musiekmenger na Juju [Malema] teruggaan, want sy lyfwag het dit aangeskaf,” het Mamabolo gesê.

Talle mense was glo ontevrede oor die bates wat op die veiling verkoop is, berig die Sunday Sun verder. “Volgens die balju was talle mense nie tevrede met die toestand van die items nie,” het Adrian Lackay, woordvoerder vir die SAID, gesê. “Die balju het ‘n verslag van alle items. Ons is vol vertroue dat alle pogings om die administrasie van die regstelsel te omseil, sal faal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.