Malema trek spoedtoestel in twyfel

Julius Malema. Foto: Chester Makana / SAPA

Julius Malema. Foto: Chester Makana / SAPA

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Vrydag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van roekelose of nalatige bestuur.

Malema het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Hy is in Desember in hegtenis geneem nadat hy teen 215 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery het. Malema het erken dat hy die bestuurder van die BMW was, maar het die akkuraatheid betwis van die toestel wat gebruik is om sy spoed te meet.

Die staat het uitstel versoek omdat die staat se kenner, wat oor die toestel kan getuig, nie by die hof kon wees nie.

Die landdros het nie die uitstel goedgekeur nie, en die verkeerskonstabel wat Malema afgetrek het, het getuig. Volgens die verkeerskonstabel het hy in ʼn ongemerkte voertuig gery wat met ʼn spesiale kamera toegerus is wat bewegende motors se spoed kan meet. Volgens sy getuienis het hy op die N1 gery toe Malema se BMW verby hom gejaag het. Malema se spoed is eers op 199km/h gemeet, toe op 200 km/h. Hy het Malema eers teen 215 km/h van die pad afgetrek. Hy het getuig die kameras wat in hul voertuie gebruik word, is akkuraat en word daagliks getoets.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.