Malema uit ANC geskors

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee het Woensdagaand aangekondig dat Julius Malema uit die party geskors is.

Die NDK het op 10 November 2011 Malema en ander jeugligaleiers daaraan skuldig bevind dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai. Malema se lidmaatskap van die ANC-jeugliga is vir vyf jaar opgeskort. Hy en die ander leiers het egter besluit om appèl aan te teken by die Nasionale Dissiplinêre Komitee van Appèl (NDKA). Die NDKA het op 4 Februarie hulle aansoek verwerp en dit terugverwys na die NDK om getuienis ter versagting of verswaring aan te hoor. Die ANC se in sy verklaring dat hy ʼn plig het teenoor sy lede en ook alle Suid-Afrikaners om te verseker dat dissipline gehandhaaf word in die uitoefening van die fundamentele doel van “’n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en vooruitstrewende Suid-Afrika te bou.”

Die NDK noem in sy uitspraak dat Malema ʼn “herhaalde oortreder” is. Malema is in Mei 2010 skuldig bevind op aanklag dat hy opruiende opmerkings gemaak het oor president Jacob Zuma. Malema moes vir sy straf politieke skool bywoon en is ook gewaarsku dat indien hy binne twee jaar weer aan ʼn oortreding skuldig bevind word hy uit die party geskors sal word. “Gevolglik het die NDK bevind dat daar ‘n verpligting op kameraad Malema was om vir minstens twee jaar die bepalings van sy opgeskorte straf in ag te neem en dat sy versuim om dit te doen gevolglik die NDK verplig om die bekragtiging van die opskorting van sy ANC-lidmaatskap af te dwing,” lees die NDK se verklaring.

In die verklaring word Malema se straf as volg uiteengesit: “Met oorweging van alle faktore het die NDK besluit op die volgende straf ten opsigte van die bevindinge van Mei 2010 en die twee dade van wangedrag wat Malema nou aan skuldig bevind is: Met betrekking tot Malema se dissiplinêre verhoor wat in Mei 2010 gehou is, word sy lidmaatskap opgeskort vir ‘n tydperk van twee jaar. Ten opsigte van die huidige dissiplinêre verhoor: Julius Malema word uit die ANC geskors. Ten opsigte van beide bevindinge: In ooreenstemming met die NDKA se bevinding van 4 Februarie 2012, is die straf van toepassing op Malema se lidmaatskap van die ANC-jeugliga. Gevolglik moet hy sy posisie as president van die ANC-jeugliga ontruim. Malema het die reg om binne 14 dae te appelleer by die NDKA.”

Malema is dus nou swaarder gestraf en kan dus appèl aanteken teen sy nuwe straf. Malema was nie by Luthuli-huis ten tyde van die aankondiging nie en is volgens berigte by sy huis in Polokwane. Die ANC-jeugliga het vroeër gesê hy sal nie kommentaar lewer op die NDK se bevinding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.