Malema vaar uit teen ANC-leierskap, Mulder, regses en setlaars

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema, sê die verbanning van ‘n “radikale stem” binne die ANC het die selfvertroue van regse leiers, wat glo dat swartmense geen aandeel in Suid-Afrika se grond het nie, versterk.

“Hulle sê Suid-Afrika behoort nie aan ons nie. Hulle sê so omdat hulle weet dat die radikale stem van die ANC verban is,” het Malema Sondag aan ‘n skare by die liga se eeufeesbyeenkoms in Kliptown in Soweto gesê. “Hulle het met die liedjies begin, en ons het gedink hulle speel. Hulle het vir ons gesê ons mag nie vryheidsliedere sing nie, want hulle was besig om stadig maar seker selfvertroue te kry.” Malema is op 12 September skuldig bevind aan haatspraak vir sy sing van die lied “dubul’ ibhunu” (skiet die boer).

Met verwysing na die leier van die Vryheidsfront Plus, dr Pieter Mulder, se onlangse uitsprake oor grond, het Malema gesê: “Ons word nou deur ʼn regse, die leier van ʼn rassistiese organisasie, vertel dat ons nie hier hoort nie, dat dit nie ons grond is nie.”

Malema het ook die ANC-leierskap daarvan beskuldig dat hulle weggeskram het daarvan om Mulder op sy plek te sit. President Jacob Zuma en die ANC se sekretaris generaal, Gwede Mantashe, het egter wel teen Mulder uitgevaar oor sy uitlatings. “In plaas daarvan om aandag aan hom te gee en hom deeglik op sy plek te sit, het ons leierskap hom vermy … Hy kan nie vermy word nie,” het Malema gesê onder dawerende toejuiging van sy ondersteuners.

Hy het gewaarsku dat indien die leierskap van die ANC nie bereid is om grondsake te verdedig nie, die “ekonomiese vryheidsvegters” dit sal verdedig. “Ons sal Madiba nooit teleurstel nie. Ons sal nooit dit waarin hy geglo het, uitverkoop nie. Hierdie is ons grond en ons ken die geskiedenis daarvan. Ons weet dat die setlaars ‘n swart volksmoord gepleeg het, dat hulle Afrikane vermoor het terwyl hulle die grond gesteel het. Hulle het grondeienaars in slawe verander en vandag het hulle die moed om ons te vertel dit is nie ons grond nie, nadat hulle ons oupas vermoor het en van ons gesteel het.” M

alema sê die ANC het met sy ontstaan in 1912 alle Afrikane saamgebring en ʼn “gemeenskaplike vyand” geïdentifiseer. “Die vyand was die persoon wat die grond gesteel het. Ons hoort hier. Ons het nie goedkeuring van die setlaars nodig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.