Malema vandag in hof oor spoed

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Vereeniging verskyn nadat hy Donderdagaand vir ʼn spoedoortreding in hegtenis geneem is.

“Hy sal vandag in die hof verskyn,” het sers. Obakeng Mabaso, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê.

Busaphi Nxumalo, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, het gesê Malema is Vrydagoggend vroeg op borgtog van R5 000 vrygelaat. “Hy is Vrydagoggend net na 03:00 vrygelaat op borgtog van R5 000,” het sy gesê.

Malema is in hegtenis geneem deur die hoëspoedeenheid in die Vaal op die N1 en hy is van roekelose en nalatige bestuur aangekla en dat hy die algemene spoedgrens oortree het.

Hy het teen 215 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery.

Nxumalo het laat Donderdagaand gesê Malema was omstreeks 23:00 steeds in polisie-aanhouding. Malema is om 19:25 aangekeer en is na die Barrage-polisiestasie geneem, maar later oorgeplaas na die Vanderbijlpark-polisiestasie.

Malema was van Bloemfontein in die Vrystaat onderweg na Johannesburg.

Daar was twee vroue en ʼn man saam met hom in die steenkoolkleurige BMW 530d.

Die sanger en aktivis Steve Hofmeyr is ook Donderdagaand in hegtenis geneem nadat hy die spoedgrens oortree het. Klik hier te lees wat hy na die tyd te sê gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.