Malema vandag in hof oor minagting

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die kurators van die boedel van die voormalige ANC-jeugligaleier, Julius Malema, gaan vandag ʼn aansoek in die hof bring wat Malema van minagting van die hof aankla.

Cloete Murray van die Sechaba Trust en Aviwe Ndyamara van die Tshwane Trust Company is aan die begin van Maart as kurators van Malema se boedel aangestel. Hulle moes verseker dat Malema al sy bates verklaar kragtens ‘n hofbevel. Malema het aanvanklik samewerking beloof, maar het nie sy belofte gestand gedoen nie. Hulle het hom daarvolgens by die Pretoriase hooggeregshof aangekla omdat hy versuim het om sy bates te verklaar.

Tumo Mokwena, Malema se prokureur, het gesê haar kliënt gaan die klag teëstaan.

As Malema skuldig bevind word, kan hy ‘n boete van tot R500 000, tronkstraf of ‘n opgeskorte vonnis opgelê word.

Dit volg nadat Malema se bates onlangs op ‘n veiling in Polokwane vir sowat R54 000 verkoop is. Dit is sowat ‘n vyfde van die waarde van sy Breitling-horlosie. Daar word vermoed dat hy van sy bates weggesteek het waarna die hof beveel het hy moet sy bates verklaar. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) poog om sowat R16 miljoen in te samel wat Malema glo in belastinggeld skuld. Die SAID beweer Malema se saketransaksies strook nie met sy belastingopgawes nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.