Malema-verhoor: Een van die klagte teruggetrek

ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/ SAPA

Die ANC sê een van die klagtes teen sy jeugligaleier, Julius Malema, is voorwaardelik teruggetrek.

Dit kom nadat daar ʼn aansoek gebring is dat die nasionale dissiplinêre komitee nie die klag mag aanhoor nie. Die ANC sê die NDK word by die aanklagte betrek maar wou nie uitbrei oor wat die klag behels nie. Die NDK sê daar is getuienis in die klag vervat wat konflik kan veroorsaak en dat hy dit wil vermy. Die ANC het wel gesê die beskuldigings wat in die klag vervat word, is ʼn ernstige aanval op die integriteit van die NDK en die ANC se organisatoriese prosesse. Malema het intussen ook weer ʼn aansoek ingedien dat die voorsitter van die NDK, Derek Hanekom, hom van die verhoor onttrek. Die aansoek is egter weer van die hand gewys. Malema se verhoor sal Saterdag voortduur en moontlik teen volgende week gefinaliseer word. Malema en vyf van sy kollegas word daarvan beskuldig dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai. Die jeugliga het gesê hy sal ʼn span na Botswana stuur om regime verandering in die land te weeg te bring. Die verhoor het Vrydag sy vierde dag betree by Kiblerpark buite Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.