Malema-verhoor gaan voort by Luthuli-huis

Die polisie patrolleer Dinsdagaand die strate voor Luthuli-huis nadat honderde jeugliga-ondersteuners vroeër chaos in die Johannesburgse middestad gesaai het. Foto: Verskaf

Paaie rondom die ANC se Luthuli-huis in Johannesburg is Woensdagoggend weer oopgestel terwyl die jeugligaleier, Julius Malema, se verhoor voortgaan.

Die ANC het gisteraand aangekondig dat Malema en sy vyf medebeskuldigdes se verhoor op ʼn onbekende plek buite Johannesburg sal voortgaan. Die regerende party het egter kort hierna van plan verander en gesê dat die verhoor weer by Luthuli-huis sal voortgaan. ʼn Polisiewoordsvoerder, lt kol Lungelo Dlamini, sê die polisie sal ʼn sterk teenwoordigheid in die middestad behou. Hy sê paaie kan moontlik weer gesluit word indien die situasie vererger. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het intussen die geweld op joernaliste ten sterkste veroordeel. Sanef sê dit is onaanvaarbaar dat joernaliste tydens die geleentheid aangeval is. Volgens Sanef is Malema se verhoor van openbare belang en moet joernaliste die geleentheid gegun word om verslag te doen daaroor.

ʼn Polisiebeampte is Dinsdag in die hospitaal opgeneem en ses joernaliste is beseer nadat ontstoke jeugliga-ondersteuners hulle met klippe en bottels bestook het. Die polisie moes Dinsdag van ʼn waterkanon, rubberkoeëls en traangas gebruik maak om die skare onder beheer te probeer bring. Die oproeriges het asblikke omgekeer en aan die brand gesteek en ook T-hemde met president Jacob Zuma se gesig op gebrand. Ronald Lamola, adjunkpresident van die ANCYL, Sindiso Magaqa, die jeugliga se sekretaris-generaal, sy adjunk, Kenetswe Mosenogi en Pule Mabe, die jeugliga se tesourier, word saam met Malema en die jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, aangekla. Hulle word daarvan aangekla dat hulle verdeeldheid in die ANC saai en die party in oneer gebring het. Die jeugliga het vroeër gesê hy sal ʼn span na Botswana stuur om regime verandering te weeg te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.