Malema-verhoor Sondag hervat, haatspraak uitspraak Maandag verwag

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Terwyl die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, gereed maak vir sy verhoor wat Sondag hervat word, het die ANC gesê hy sal nie bekendmaak waar dit gaan plaasvind nie.

ʼn Woordvoerder, Keith Khoza, het vroeër gesê die party sou bekendmaak waar die verhoor gaan plaasvind maar het egter daarteen besluit. Die ANC was aanvanklik bekommerd dat indien hulle nie bekendmaak waar die verhoor gaan plaasvind nie, daar ʼn herhaling van voorverlede week se geweld by Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad kan wees. Malema-ondersteuners het die polisie en joernaliste met klippe bestook terwyl hulle vlae en asblikke aan die brand gesteek het. Die ANC het die geweld ten sterkste veroordeel. Malema en vyf van sy kollegas word daarvan aangekla dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party saai. Die jeugliga het vroeër vanjaar ʼn verklaring uitgereik waarin hy gesê het hy sal ʼn span na Botswana stuur om regime-verandering in die land te weeg te bring. Intussen sal daar Maandag uitspraak gelewer word in die haatspraaksaak teen Malema. AfriForum het die hof genader en gevra dat Malema se sing van die woorde “Skiet die boer” as haatspraak verklaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.