Malema-verhoor word Vrydag hervat, klagtes dalk laat vaar

Ondersteuners van ANC-jeugligaleier, Julius Malema, betoog Woensdag buite Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad waar Malema en vyf ander jeugligalede verhoor word. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugliga se dissiplinêre verhoor teen sy jeugligaleier, Julius Malema, en vyf van sy kollegas is tot Vrydag uitgestel.

Talle van Malema se ondersteuners het weer Woensdag voor Luthuli-huis in Johannesburg bymekaargekom. Hulle getalle het egter begin afneem nadat die liga se woordvoerder, Floyd Shivambu, vroeër die middag aangekondig het dat Malema tans binne die gebou is en met sy regsverteenwoordiger konsulteer. Die liga se adjunk sekretaris generaal, Kenetswe Mosenogi, wat ook aangekla word, het aan ondersteuners gesê oorwinning is seker. Intussen berig EWN dat dit wil voorkom of die ANC se dissiplinêre komitee Donerdag sal moet besluit of hy die aanklagte teen Malema gaan laat vaar. Die jeugliga se regsverteenwoordigers het glo aan die komitee gesê die regte prosedures is nie gevolg toe Malema aangekla is nie.

Die ANC se woordvoerder, Keith Khoza, het vroeër die dag aangekondig dat die party se dissiplinêre komitee elke aangeklaagde se sake afsonderlik sal hanteer. Hy wou egter nie enige besonderhede bekendmaak nie. Die Star berig dat Malema nie Dinsdag daarin kon slaag om ANC-lede wat die aanklagtes aanhoor te kry om van die saak te onttrek nie. Dit sluit in die komitee voorsitter, Derek Hanekom, die minister van mynwese Susan Shabangu en minister in die presidensie Collins Chabane. Die polisie sê intussen dat hy die mense wat in Dinsdag se geweld betrokke was uitgeken het. ʼn Woordvoerder, kapt. Lungelo Dlamini, sê hulle hoop om van die verdagtes in hegtenis te neem soos wat die ondersoek vorder. Jeugliga-ondersteuners het Dinsdag chaos in die Johannesburgse middestad gesaai toe hulle polisiebeamptes en joernaliste met klippe en bottels bestook het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.