Malema wil ‘n boer word

ANC-jeugligaleier Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, sê sy politieke loopbaan is verby en hy is van plan om met beeste te boer.

Malema het in ʼn onderhoud aan die Sunday Times gesê hy het tans sowat 20 beeste. “Ons sal met hulle teel, hulle na die slagpale neem, hulle slag en dan die vleis verkoop,” het Malema aan die koerant gesê. “Ek is klaar polities. Hulle sê ek is geskors en al daai dinge”. Malema sê sekere lede van die regerende party het ʼn “voorafbepaalde” agenda teen hom en die jeugliga se leierskap. “Sommiges kan nie langer hulle irritasie terughou nie. Ander kan ons nie langer verduur nie, maar ander is net bang vir verandering. Verandering in beleid en verandering in leierskap.” Malema sê hy verwelkom ondersoeke na sy finansiële belange want dit wys wie sy vyande is. Hy wou egter nie uitwei oor sy sakebelange nie. “Ek is by baie besighede betrokke”. Malema en vyf van sy kollegas is net meer as twee weke gelede op verskeie aanklagte skuldig bevind deur die ANC se nasionale dissiplinêre komitee. Malema is vir vyf jaar geskors en versoek om afstand te doen van die leierskap. Malema het Donderdagaand formeel appèl aangeteken teen sy skorsing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.