Malema wil wéér mynwerkers toespreek

Julius Malema

Die geskorsde ANC-jeugligaleier, Julius Malema, beplan om vandag mynwerkers in Virginia in die Vrystaat toe te spreek.

Die Vriende van die Jeugliga sê mynwerkers het Malema uitgenooi om hulle toe te spreek. “Dit is onbeskaamd deel van die mynrewolusie wat sal verseker dat alle myne onregeerbaar gemaak word totdat mynbase instem tot ‘n minimum loon van R12, 500 per maand vir alle mynwerkers en uiteindelik die nasionalisering van myne,” het die Vriende van die Jeugliga in ʼn verklaring gesê. Malema het verlede maand mynwerkers by verskeie myne toegespreek waarna die vakbond Solidariteit strafregtelike aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen hom aanhangig gemaak het. Die Valke het bevestig dat hy die aanklagte teen Malema ondersoek. Malema is op 17 September deur die polisie uit Marikana in Noordwes verjaag toe hy stakende mynwerkers wou toespreek.

Malema is verlede maand op borg van R10 000 vrygelaat nadat hy op aanklagte van geldwassery verskyn het. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, sê Malema kan 15 jaar tronkstraf kry indien hy skuldig bevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.