Mamabolo sal trofee, medalje ontvang

Ludwick Mamabolo. Foto: IOL

Ludwick Mamabolo sal Maandag, elf maande nadat hy die Comrades-marathon gewen het, sy trofee, goue medalje en R300 000-wengeld by Comrades House in Pietermaritzburg ontvang.

Mamabolo (36) is vandeesweek vrygespreek van enige dwelmaanklagte teen hom nadat ‘n ondersoekkomitee bepaal het dat daar talle onreëlmatighede in die toetproses was. “Ons sal die 2012 Comrades-marathonwenner, Ludwick Mamabolo, eer en sy trofee aan hom oorhandig,” het die Comrades-marathonvereniging (CMA) Vrydag gesê.

Mamabolo sê hy hoop die SA Instituut vir Dwelmvrye Sport en die CMA sal verseker dat die reëls en prosesse vir die toetsproses in die toekoms strenger gevolg sal word. Hy sê hy hoop atlete sal hulle ook van die korrekte prosedures vergewis. “Ek wil net kan deelneem, my hardlopery geniet en my inkomste as professionele atleet kan verdien,” het Mamabolo gesê.

Mamabolo sal sy titel volgende maand verdedig wanneer die atlete aan ‘n “op”-resies, van Durban na Pietermaritzburg, deelneem. Die laaste Suid-Afrikaner wat ‘n “op”-resies kon wen, was Jetman Msutu in 1992. “Ons moet die Comrades altyd respekteer vir wat dit is, maar ek gaan my beste lewer, en ek sien uit daarna,” het Mamabolo bygevoeg.

Lees ook:
Comrades-wenner onskuldig verklaar
Comrades-wenner: B-monster uitslae bekend
Comrades-wenner dalk sy titel kwyt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.