Man beken skuld op moord in SMS

‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo in ‘n SMS-boodskap aan die polisie skuld beken het op ‘n moord.

‘n Man het glo ‘n SMS aan die polisie gestuur waarin hy hulle in kennis stel dat hy gaan selfmoord pleeg en erken dat hy Lindiwe Ngwenya vermoor het, het die Sowetan Donderdag berig. “Beamptes het na die man se huis gehaas nadat hulle die boodskap ontvang het,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Terwyl hulle daar was, het die man ‘n boodskap aan sy huidige vriendin gestuur om te sê dat hy selfmoord gaan pleeg.”

Die polisie het die man in ‘n toilet by Dobsonville-polisiestasie opgespoor net voordat hy gif kon drink. ‘n Deel van die SMS, wat in isiZulu gestuur is, lui soos volg: “Ek het haar geslaan en sy het per ongeluk op 12 Augustus 2012 gesterf, maar haar familie sal nooit haar liggaam opspoor nie omdat ek hulle wil terugkry ná 23 jaar van misbruik, huil, en smeke om hulp.”

Volgens die Sowetan is die vrou verlede jaar in Augustus laas by ‘n buurvrou gesien. Sy en die verdagte het glo die dag voor sy verdwyn het, gestry. Haar familie het haar as vermis aangemeld nadat hulle haar vir twee maande lank nie gesien het nie. Die familie wag tans op DNA-resultate van die liggaam van ‘n onbekende vrou wat verlede jaar in Dobsonville opgespoor is.

Dlamini sê die man sal na verwagting van moord aangekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.