Die polisie in KwaZulu-Natal het ʼn beroep gedoen op jong vroue om op die uitkyk te wees vir ʼn man wat voorgee dat hy vir hulle modelwerk kan reël en hulle dan verkrag of beroof.
ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Jay Naicker, sê die man verskaf verskillende name aan sy slagoffers, soos Nathan Bradley Cleopaths en Thomas Bester. Hy word gesoek in verband met verkragtingsake, bedrog en diefstal. Naicker sê die man adverteer op die internet dat hy jong vroue wat graag modelwerk wil doen kan help. Die man kry ook die vroue sover as om in hotelle in te boek vir ʼn paar dae. Hy neem dan die vroue se skootrekenaar en selfone weg en sê dit moet om veiligheidsredes geskandeer word. Die man verdwyn dan met hulle eiendom en sonder om die rekening by die hotel te betaal. In een voorval is ʼn vrou verkrag en beroof. Naicker sê die man teiken vroue van alle rassegroepe.