ʼn Sakeman is Maandag buite ʼn winkelsentrum in Kaapstad geskiet.
ʼn Polisiewoordvoerder, konst. Sakhiwo Mbovane, sê die man is Maandagoggend omstreeks 11:00 by die Vangate-winkelsentrum deur drie mans genader nadat hy sy motor parkeer het. Mbovane sê die sakeman en sy passasier was op pad om R50 000 in te betaal by ʼn bank in die sentrum. Die mans het vuurwapens uitgeruk en aangedring op die geld. Mbovane sê die sakeman het sy vuurwapen uitgeruk en die rowers probeer skiet, maar sy vuurwapen het vasgehaak. Die sakeman is twee keer in die been en een keer in die arm geskiet voor hulle met geld gevlug het. Die passasier het die man na ʼn hospitaal geneem vir behandeling. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.