Man dagvaar onderwyseres wat hom glo gestremd gelaat het

‘n Voormalige skolier dagvaar die departement van basiese onderwys en sy voormalige laerskoolonderwyseres vir R4 miljoen vir beserings wat hy in Graad 3 opgedoen en hom glo gestremd gelaat het.

Selby Oupa Mokonyama (22) het sy saak by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin hy beweer dat die onderwyseres hom met ‘n besem aangerand het toe hy 8 jaar oud was. Mokonyama sê hy is gestraf toe hy geraas het terwyl die onderwyseres by ‘n vergadering in die hoof se kantoor was. Hy was slegs drie maande by Laerskool Zebediela in Limpopo. Mokonyama, wat nou in Mamelodi Oos, noord van Pretoria bly, sê hy kan nie sonder krukke loop nie.

“Ek is nie gestremd gebore nie,” het hy gesê. “Ek was mal daaroor om sokker te speel. Sy het my van ‘n moontlike blink toekoms ontneem en nooit eers om verskoning gevra nie.” Hy sê meeste van sy klasmaats is ook daardie dag aangerand, maar hy was die ongelukkige een om eerste gestraf te word. Hy beweer die onderwyseres het hom sewe keer op sy boude geslaan en sy rugstring beseer. “Dit was die seerste straf wat ek ooit ontvang het. Ek het op die grond geval en kon nie opstaan nie,” het hy bygevoeg.

“Die onderwyser in die klas langsaan het gehoor hoe ek skree en tot my redding gekom. Ek was al by talle hospitale, maar die dokters kan niks vir my doen nie.” Hy sê hy het uiteindelik ‘n operasie ondergaan en was toe in staat om te sit, maar dit het nie sy balans herstel nie. “Talle fisioterapeute het al probeer om my te help. Ek het groot drome gehad om ‘n sokkerspeler en meganiese ingenieur te word. Sy het my lewe vernietig,” het Mokonyama gesê.

Mokonyama sê hy moes die skool verlaat omdat kinders hom te veel gespot het. “Ek het elke keer gehuil wanneer ek in die spieël gekyk het, omdat ek nie só gebore is nie.”

Mokonyama het verlede jaar ‘n kollege probeer bywoon, maar sy familie kon hom nie finansieel ondersteun nie.

Die saak is uitgestel om die departement kans te bied om te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.