ʼn Man is dood en sy 17-jarige seun ernstig beseer toe die motorfiets waarop hulle gery het Vrydagmiddag teen ʼn konstruksievoertuig in Bredell, Kemptonpark, gebots het.
Volgens Jeffery Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare911, het die motorfiets vermoedelik in die pad van die konstruksievoertuig beland waarop die botsing gevolg het. Die pa en seun se liggame is op impak deur die lug geslinger.
Met die paramedici se aankom het die pa reeds aan sy wonde beswyk. Die seun is op die toneel gestabiliseer en na die Tembisa-staatshospitaal geneem. Hy is in ʼn ernstige toestand.
Die polisie is besig om die ongeluk te ondersoek.