Man dryf glo 16 maande in Stille Oseaan rond

Die Marshall-eilande (A) op die wêreldkaart.

Die Marshall-eilande (A) op die wêreldkaart.

ʼn Meksikaanse man beweer hy het vir 16 maande in die Stille Oseaan rondgedryf.

Die uitgeteerde skipbreukeling het homself as Jose Ivan geïdentifiseer. Ivan het Donderdag op die Ebon-koraaleiland uitgespoel. Dit vorm deel van die afgeleë Marshall-eilande. Hy beweer hy het in September 2012 van Meksiko vertrek om na El Salvador te vaar en dat hy sedertdien in die see rondgedryf het. Ivan is gered nadat sy 24-voet lange veselglasboot op ʼn klipbank langs die eiland beland het. Die boot se enjinskroewe was af. Ivan het slegs ʼn stukkende onderbroek aangehad en sy hare en baard was lank en woes. Volgens Ivan het hy ʼn metgesel op die boot gehad en is die reeds maande lank terug oorlede. Ivan sê hy het oorleef deur seeskilpaaie, voëls en visse te eet en die bloed van die skilpaaie te drink wanneer dit nie gereën het nie. Daar was geen visvanggereedskap op die boot gevind nie. ’n Skilpad is wel op sy boot gevind.

Stories van oorlewing in die Stille Oseaan is nie ongewoon nie. In 2006 het drie Meksikaanse mans wêreldwyd nuus gemaak nadat hulle nege maande na hul vertrek op ʼn visvang-ekspedisie naby die Marshall-eilande gevind is. Die mans het oorleef deur reënwater te drink en rou vis en seevoëls te eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.