Man en kleuter deur hondsdolhonde gebyt

Argieffoto.

‘n Hawelose man en ‘n kleuter van Amanzimtoti is die mees onlangse geval van mense wat deur hondsdoldiere in KwaZulu-Natal aangeval is.

Die kleuter is die afgelope week deur ‘n babahondjie, wat geen tekens van hondsdolheid getoon het nie, gebyt, berig The Citizen. Die hawelose man is deur ‘n rondloperhond gebyt. Hy het glo vroeër die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gesmeek om die hond as ‘n troeteldier te kan aanhou.

Die DBV is oor die hond gekontak en hulle het in Amanzimtoti op die hond afgekom. Terwyl hulle die hond probeer vang het, is die hawelose man gebyt. Die hond het ook nie enige tekens van hondsdolheid getoon nie. “Ons het vir die man gesê hy moet hospitaal toe gaan, maar hy het geweier,” het Tracey Girling, bestuurder van die Amanzimtoti DBV, gesê. “Die departement van gesondheid was later op soek na die man. Die staat se veearts het bevind dat die hond hondsdol is, maar die man het duidelik nooit enige tekens gesien dat die hond hondsdol is nie.”

Girling sê daar was al verskeie hondsdol-sake die afgelope jaar. Alhoewel die siekte bykans altyd vir mense noodlottig is, laat talle troeteldiereienaars nie hul diere hierteen inent nie, of kry hulle slegs een inenting. Volgens Girling moet diere jaarliks ingeënt word. “Hondsdol-sake het die afgelope paar jaar afgeneem, maar dit blyk of daar ‘n toename is net voor die Paasvakansie.”

Ses-en-twintig mense is vroeër binne vier dae naby Marianhill, wes van Durban, deur twee hondsdolhonde gebyt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.