Man gebruik nuwe wet teen eks-meisie wat glo teister

Duncan D’Ewes

Duncan D’Ewes (37) van Johannesburg, gaan van ʼn nuwe wet gebruik maak teen sy voormalige meisie wat hom glo aanhoudend teister.

D’Ewes is een van die eerste mense wat ʼn saak onder die nuwe Wet op Beskerming teen Teistering by die polisie aanhangig gemaak het. Die nuwe wet het Saterdag op Vryheidsdag in werking getree, het The Star Donderdag berig.

Die voormalige meisie se teistering het glo veroorsaak dat D’Ewes sy werk moes bedank en dat hy baie van sy vriende verloor het. Sy het ook glo ʼn vals Facebook-profiel van hom geskep en haarself as hom voorgedoen en met familie, vriende en kollegas kontak gemaak. Sy word ook daarvan verdink dat sy betrokke was by ʼn voorval waar sy huis in Sandton met ʼn petrolbom gegooi is. Sy het ook toegang tot sy werk se e-pos bekom en verder amok gemaak.

Hy het haar op 11 November ontmoet waarna hulle in ʼn kort verhouding was. Hulle het vir ʼn tydjie saamgebly en toe hy uit trek, het sy geweier om van sy besittings terug te gee. Sy het glo die heeltyd aangedring om nog een intieme aand saam met hom te hê.

“Ek is raadop, ek kan nie eens nuwe verhoudinge aangaan nie. Niks is buite perke vir haar nie, sy teister selfs my vriende. Sy gee my ook gereeld, sowat elke halfuur, ʼn ‘missed call’,” het hy gesê.

Hy het glo verskeie klagtes teen haar aanhangig gemaak, maar sy is nooit in hegtenis geneem nie. Nadat sy hom vir sowat agt maande lank geteister het, het hy ʼn privaatspeurder aangestel wat uitgevind het dat die vrou 12 klagtes in die gesig staar, waaronder teistering, intimidasie, naamskending, bedrog, huisroof, diefstal en die onwettige onderskepping van kommunikasie. Sy is nou ook onder die nuwe wet aangekla.

Kym Cloete, ʼn woordvoerder van die Sandton-polisiestasie, sê die saak word ondersoek.

Bron: The Star

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willie ·

Half gebakte artikel.

Die hele artikel gaan oor die nuwe wet en hoe hy gebruik word vir die eerste keer, volgens die opskrif maar die nuwe wet of sy bepalings word egter nie genoem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.