Man gered van Lonmin-betogers

Foto: Taurai Maduna/EWNʼn Man is Maandagmiddag van stakende werkers by Lonmin se Marikana-myn buite Rustenburg gered danksy flink optrede van die polisie.

Betogers het Maandag met knopkieries, panga’s en spiese van mynskag tot mynskag beweeg en geëis dat alle bedrywighede opgeskort word. Die stakers het glo ook ander mense geïntimideer en geëis dat hulle aan die staking deelneem. ʼn Middeljarige man het die stakers sien aankom en weggehardloop. Die stakers het agter hom aangehardloop. Die man het tot by ʼn pad gehardloop waar die polisie hom opgetel en na veiligheid geneem het.

Die stakende werkers het vroegoggend voor Lonmin se ingang bymekaar gekom en gesing: “Thina silwela amalungelo wethu… [Ons veg vir ons regte].” Hulle het ook daarop aangedring dat alle bedrywighede opgeskort word tot daar aan hulle eis van ʼn R12 500-loon gehoor gegee word. Die vakbond Solidariteit sê die stakende werkers se verteenwoordigers het nie vanoggend vir die onderhandelinge opgedaag nie. “Die verteenwoordigers het aangedui dat hulle te moeg was om die onderhandelinge by te woon. Kerkleiers het namens die werkerskomitee by die vergadering terugvoer gegee en aangedui dat die werkers nie sal terugkeer werk toe totdat daar aan hulle eis vir ’n R12 500-loon toegegee word nie. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het gevra vir ’n dag se uitstel om vir ’n laaste keer met die werkerskomitee te vergader,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gesê. Solidariteit sê hy is nie hoopvol dat die geskil bygelê sal word nie omdat dit duidelik oor meer as net lone gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.