ʼn Nigeriese man is doodgeskiet na ʼn wilde jaagtog deur die strate van Bloemfontein in die Vrystaat.
Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, sê die jaagtog het omstreeks 19:00 Woensdagaand in Oranjesig tot ʼn einde gekom nadat die slagoffer Chuhudu Obed Obi beheer oor sy motor verloor het en teen die hek van ʼn huis gebots het. Marope sê een van die mans wat Obi gejaag het, het uit sy motor geklim en na Obi, wat in die motor vasgekeer was, geloop en hom verskeie kere geskiet. Hy is vyf keer in die maag, een keer in sy nek en een keer in die linkerskouer geskiet. Obi is op die toneel dood. Die huiseienaar het die polisie ontbied. Die polisie het enigiemand met inligting oor die moord versoek om hulle te kontak.