Man gevonnis vir Sanlam-moord

Argieffoto

‘n Man van Mpumalanga wat sy eksmeisie voor haar kollegas doodgeskiet het, is Vrydag tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Steven Johannes Malumane (25) van Chochocho buite Hazyview is in die Pretoriase hooggeregshof gevonnis vir die moord op Cynthia Mashego (30). Hy het haar op 22 Maart 2012 op die derde verdieping van die Sanlam-gebou in Mbombela doodgeskiet.

Mashego se kollegas het getuig dat Malumane die kantoor omstreeks 08:00 betree het en gevra het om met haar te praat. Hy het haar minute later in die gang in getrek en ‘n geweerskoot is afgevuur. Toe haar kollegas wou sien wat gebeur het, is nog ‘n skoot gevuur wat hulle gedwing het om die deur toe te maak en in hul kantoor weg te kruip.

Regter Mmonoa Teffo het genoem dat Malumane daarop aangedring het om met haar te praat, alhoewel sy bang was en probeer het om hom te vermy. “Jy het haar saam met twee kollegas aangetref en sy het geweier om met jou te praat. Jy het daarop aangedring totdat die kollegas jou toegelaat het om met haar te praat,” het Teffo gesê. “Sy was baie bang. Sy het na jou toe gekom en jy het by ontvangs met haar gepraat, jy is saam met haar na die gang waar jy haar geskiet het voordat jy die gebou verlaat het.”

‘n Paar minute later het Malumane Vusimuzi Mabuza gekaap, hom met ‘n vuurwapen gedreig en hom gedwing om na Chochocho te ry waar die polisie hom later in hegtenis geneem het. “Hierdie misdade is ernstig en die omstandighede is baie sleg,” het Teffo bygevoeg.

“Jy het ‘n weerlose vrou geskiet waar sy gedink het sy is veilig. Jou optrede was traumaties vir haar kollegas en jy het nooit enige respek getoon nie. As hulle geweet het jy gaan haar vermoor, sou hulle jou nooit toegelaat het om met haar te praat nie.”

Teffo sê die staat het daarop gewys dat Malumane eers skuldig gepleit het toe hy besef het dat daar verdoemende getuienis teen hom is.

Malumane is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord, 10 jaar vir diefstal met verswarende omstandighede, sewe jaar tronkstraf vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen en drie jaar vir die besit van ammunisie. Vyf jaar van die tronkstraf sal gelyklopend met die moordvonnis uitgedien word. “Alle ander vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, wat beteken dat jy altesaam 30 jaar tronkstraf sal uitdien,” het Teffo gesê.

Sy het hom verlof tot appèl gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.