ʼn Inwoner van Vanderbijlpark het die eienaars van ʼn gholfbaan hof toe gesleep omdat verdwaalde gholfballe glo gereeld sy huis, wat in ‘n gholflandgoed is, tref en gevaarlike situasies veroorsaak.
Eric Schoeman het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn om ʼn interdik teen die Emfuleni-gholfbaan se eienaars te verkry om spelers te verhoed om dié baan se 14de putjie te gebruik.
The Star berig Schoeman beweer die gedeelte van die baan is slegs 10 meter van sy huis af. Hy sê sy huis en leefarea word gereeld deur gholfballe getref. Toe Schoeman sy huis in die landgoed gekoop het, het die eienaar glo mondelings vir hom belowe dat die putjie verder van sy huis geskuif gaan word. Die gholfbaan is intussen aan nuwe eienaars verkoop wat beweer dié belofte was nie in die verkoopsooreenkoms nie.
Regter Natvarlal Ranchod het die saak na ʼn latere datum uitgestel sodat mondelingse bewyse gelewer kan word.