Man hou vrou, kinders gyselaar

ʼn Man het sy vrou en drie kinders Sondag beseer terwyl hy hulle met ʼn grasskêr en ʼn swaard gyselaar gehou het in Eastridge in Mitchells Plain.

Kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê die 43-jarige man het sy vrou en hul vyfjarige dogter met die grasskêr beseer. “Die ma en dogter het snywonde op hul bors opgedoen en die egpaar se 18-jarige seun het ʼn wond op sy linkerhand opgedoen nadat hy met ʼn swaard deur sy pa aangerand is.” Kinana sê die polisie is omstreeks 2:00 Sondagoggend na die huis ontbied na ʼn berig van huishoudelike geweld. Die man het gedreig om sy vrou en hul drie kinders te vermoor. Kinana sê die polisie kon daarin slaag om die vrou en die vyfjarige dogter uit die huis te verwyder terwyl die 18-jarige seun self ontsnap het. Die man het egter steeds die egpaar se negejarige seun aangehou. “Die polisie se onderhandelaars het verskeie pogings aangewend om die situasie te ontlont waarna die man omstreeks 9:30 die ander seun ongedeerd vrygelaat het.” Kinana sê die man is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van poging tot moord. Die vrou en kinders is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie van graan ·

Wat gaan aan met die mensdom, raak hulle nou heeltemal mal. Ai. Ek wens almal kan net vrede in hulle harte kry, in die ou dae het jy nie van sulke goed gehoor nie. Ek glo die duiwel is los gelaat. Arme mense en wonder wat deur daardie kinders se koppe gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.