Man in aanhouding ná hy bejaarde glo met steen gooi

Gerhard du Preez (71). Foto: Stefan Schlimmer / Facebook

Die huurwerker wat ʼn bejaarde inwoner van die Oos-Rand Vrydag glo met ʼn betonsteen in sy gesig gegooi het, het Maandag in Gauteng in Benoni se landdroshof verskyn.

Lt. Nomza Sekele, ʼn polisiewoordvoerder van die Benoni-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die man is aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek en die verdagte bly in gevangenis totdat hy weer in ʼn latere stadium in die hof gaan verskyn.

Maroela Media het Maandag berig Stefan Schlimmer, ʼn 22-jarige helikoptervlieënier van Benoni, het Vrydag die huurwerker aangekeer wat vermoedelik die slagoffer oor ʼn loondispuut aangeval het, omdat die huurwerker glo R20 te min betaal is. Lees meer hier.

Die 71-jarige slagoffer, Gerhard du Preez, word sedert die aanval in die Linmed-hospitaal behandel.

Du Preez se vrou, Tina, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dit gaan nog nie goed met haar man nie. “Hy word onder verdowing gehou en is verskriklik deurmekaar,” hy sy gesê. Du Preez word behandel vir ondermeer ʼn gebreekte neus en bloeding op die brein. “Dit is in die stadium glad nie bekend hoe lank Gerhard in die hospitaal behandel moet word nie, en alles oor R20,” het sy bygevoeg.

Tina het almal bedank vir hul ondersteuning, gebede en boodskappe van bemoediging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.