Man in hof oor moord op oud-Leeu

Johan Kemp en sy gesin. Foto: Facebook

ʼn Zimbabwiër het Vrydag in die Randburg-landroshof verskyn in verband met die moord op Johan Kemp, die voormalige rugbyspeler vir die Leeus, wat verlede week in sy huis in Randburg doodgeskiet is.

Lt. kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, sê Chastauka Nyamayaro sal in polisie-aanhouding bly en sal weer op 12 April in die hof verskyn. Nyamayaro was glo een van drie mans wat verlede Donderdagoggend by Kemp se huis in Fontainebleau ingebreek het. Kemp is in sy slaapkamer oorval en drie keer in die bors geskiet. Sy vrou, Elaine, en hul twee seuntjies, onderskeidelik twee en vier jaar oud, is ongedeerd. Die gesin se twee honde is met ‘n mes gesteek, maar het die voorval oorleef. Kemp het in 2002 vir die Goue Leeus in die Vodacom-beker gespeel. Een van sy voormalige spanmaats, Cobus Grobbelaar, het hom as “vriendelik met ‘n goeie sin vir humor” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.