Die man wat beskuldig word van die moord op sy 9-jarige stiefdogter, wie se liggaam in ʼn klein vrieskas in haar ouerhuis in Eersterust, Pretoria, gekry is, het Maandag vlugtig in die Sentrale gevangenis se hof verskyn.
Danielle Gaysma se liggaam is verlede Sondagmiddag gekry ná sy die dag tevore vermis geraak het.
Volgens konstabel Sam Shibambo, ʼn woordvoerder van die Eersterust-polisie, is die kind se stiefpa later die dag in hegtenis geneem. “Verskeie bewyse het die man met die beweerde moord verbind,” het Shibambo aan Maroela Media gesê.
Die 48-jarige Gerald Cubido staan tereg op ‘n aanklag van moord. Hy het aangedui dat hy nie in dié stadium om borgtog gaan aansoek doen nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 17 Julie uitgestel.