Man in hof wat glo radiostasie afbrand

Foto: sundayworld.co.za

Foto: sundayworld.co.za

ʼn Man het Vrydag in die Sasolburg-landdroshof verskyn in verband met brandstigting by die Karabo FM-gemeenskapsradiostasie, het die Vrystaatse polisie gesê.

“Die saak is tot Donderdag uitgestel sodat die man aansoek kan doen om borgtog,” het sers. Sellwane Mapamela, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die 30-jarige man, wat skuld erken het, is Maandag in hegtenis geneem.

Vier mans, waarvan twee gewapen was, het in September Karabo FM se ateljee in Zamdela betree. Die mans het klapmusse aangehad. “Hulle het die sekuriteitswag vasgebind, sy selfoon afgeneem en die radiostasie se telefoonlyne afgesny,” het Mapamela gesê.

Twee van die mans het die omroeper uit die ateljee gejaag voordat hulle die gebou aan die brand gesteek het.

Sam Mkhwanazi, voorsitter van die raad, het in daardie stadium gesê hy weet nie waarom die mans die gebou wou afbrand nie. “Die hele gebou is verwoes. Ons harde werk van vyf jaar is binne twee minute ongedaan gemaak,” het Mkhwanazi gesê.

Hy sê die stasie het ʼn “gewone verhouding” met inwoners in Sasolburg en hy kon nie verstaan waarom mense besluit het om hulle af te brand nie.

Lees ook:
Gemeenskapsradiostasie brand af

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.