Die man het teen 187 km/h met sy Honda CBR 1000 gejaag, het Busaphi Nxumalo, woordvoerder vir die verkeerspolisie in Gauteng, gesê. “Hy het beweer sy ma is dood en dat hy na haar huis in Pretoria op pad was,” het Nxumalo gesê. “Nadat ons dié inligting opgevolg het, en verskeie familielede geskakel het, kon niemand bevestig of dit inderdaad die geval is nie,” het sy bygevoeg.
Die man is in hegtenis geneem en na die polisiestasie in Muldersdrift geneem waar hy formeel van roekelose en nalatige bestuur aangekla is en dat hy die algemene spoedgrens van 120 km/h verbreek het. Hy is op R1 500 borg vrygelaat en sal Maandag in die landdroshof in Krugersdorp verskyn.