ʼn Man het Woensdag in die Matlala landdroshof verskyn nadat hy glo beweer het hy is gekaap sodat die polisie vir hom ʼn saamrygeleentheid kon gee.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol Mohale Ramatseba, sê die 30-jarige Lesley Mabitsela is op gratis borgtog vrygelaat. Die saak is tot 8 Maart uitgestel vir verdere ondersoek. Mabitsela het glo op 3 Desember verlede jaar aan die polisie gesê hy is gestrand in Rametloane nadat ʼn man aan wie hy ʼn saamrygeleentheid gegee sy motor gekaap het. “Hy beweer dat agt mans in twee motors sy motor gekaap het en hom langs die pad afgelaai en weggejaag het,” sê Ramatseba. Hy sê dit het later aan die lig gekom dat Mabitsela vir sy vriendin wou gaan kuier maar nie vervoer gehad het nie. Hy is in hegtenis geneem en van regsverydeling aangekla.