Man kritiek ná ontploffing by fabriek

Netcare 911 se helikopter staan gereed om die man op te laai. Foto: Netcare911

ʼn Man veg om sy lewe in die Netcare Milpark-hospitaal nadat hy Woensdag ernstig beseer is tydens ʼn ontploffing by ʼn fabriek in Waltloo, Pretoria.

“Die man het glo aan ʼn drom met vlambare vloeistof gesweis. Die vloeistof het met die sweismasjien se vlam in aanraking gekom en aan die brand gesteek. Die drom het ontplof en ʼn brand in die fabriek veroorsaak. Die impak van die ontploffing het die man agteruit geslinger,” het Jeffrey Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare911 gesê.

Volgens Wicks was die man in ʼn kritieke toestand toe paramedici op die toneel aankom en het hy erge brandwonde oor 90% van sy liggaam opgedoen. Hy is op die toneel behandel en gestabiliseer terwyl Netcare911 se helikopter ontbied is.

“Die helikopter moes in ʼn straat land om die man op te laai. Hy is na Milpark geneem om deur spesialiste behandel te word,” het Wicks bygevoeg.

Die departement van arbeid ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.