Man kry 12 jaar ná hy kind met bylsteel doodslaan

Argieffoto

ʼn Motorwerktuigkundige is Woensdag tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy driejarige seun met ʼn bylsteel doodgeslaan het.

Die werktuigkundige, Vincent Mugwagwa (54), is op 3 Junie in die Pretoria-hooggeregshof skuldig bevind aan moord.

Hy is van Zimbabwe en het in 2010 na Suid-Afrika gekom nadat hy sy werk verloor het. Sy vrou en vier van sy nege kinders het saam met hom getrek. Sy ander vyf kinders is steeds in Zimbabwe.

Op 11 Junie verlede jaar het sy vrou, Dorica Cipeta, met wie hy toe 29 jaar getroud was, hom daarvan beskuldig dat hy ontrou aan haar was. Die egpaar het begin baklei, waarna hy sy vrou en kinders uit die huis gejaag het. Hy het hulle tot in ʼn buurman se erf gevolg. Die egpaar se jongste seun, Wesley, het na sy pa toe gehardloop, waarna Mugwagwa hom verskeie kere met ʼn bylsteel geslaan het. Mugwagwa het daarna self die ambulans gebel en die saak by die polisie aangemeld. Die kind is drie dae later in die hospitaal dood.

“Die verdagte het sy humeur verloor en was emosioneel onstabiel toe hy die moord gepleeg het,” het regter Nico Coetzee Woensdag gesê. “Hy het erken dinge het buite beheer geraak. In my mening is ‘n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf ‘n gepaste straf vir die misdaad wat gepleeg is,” het Coetzee gesê.

Volgens Coetzee het Cipeta haar man vergewe vir wat hy gedoen het en die hof gesmeek om hom nie tronk toe te stuur nie, aangesien sy en die kinders van sy inkomste afhanklik is. Mugwagwa het glo ook oor die algemeen ʼn liefdevolle verhouding met sy gesin gehad.

Volgens Coetzee is Mugwagwa se ouderdom, die feit dat hy ʼn eerste oortreder is, en die feit dat hy berou vir sy misdaad getoon het, ʼn invloed op die vonnis gehad.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.