ʼn Man wat daaraan skuldig bevind is dat hy ʼn 12-jarige meisie verkrag het is Donderdag in die Dundee-streekshof in KwaZulu-Natal tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, sê Keletso Innocent Ntuli het die 12-jarige meisie aangeval en verkrag terwyl sy op pad was huis toe na Nuwejaarsdagvieringe in Nquthu naby Ulundi. Die meisie het haar ma van die verkragting vertel en ʼn saak is by die polisie aanhangig gemaak. Zwane sê Ntuli het sielkundige waarneming ondergaan voor hy gevonnis is.