Man kry lewenslank vir moord op vrou

Albert van Vuuren, ʼn drankwinkelbestuurder van Bronkhorstspruit, is Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy vrou.

Regter Elizabeth Kubushi het Van Vuuren (43) se argument dat hy nie beplan het om sy vrou, Monica, te vermoor nie, verwerp. ʼn Patoloog het gedurende die verhoor getuig dat Monica nagenoeg 25 keer met ʼn skerp voorwerp gesteek is en ʼn gebreekte nek en kakebeen gehad het. Sy is dood weens ʼn rugbesering en steekwonde aan beide kante van haar bors, wat haar hart en longe deurboor het. Kubushi sê ʼn sterk boodskap moet gestuur word dat moorde op vroue nie geduld sal word nie. Die hof het ook Van Vuuren se verweer dat hy niks kan onthou van die aand van 11 Julie 2010 waarop sy vrou Monica vermoor is nie, verwerp. Die eerste polisiebeampte op die toneel het op Van Vuuren afgekom waar hy op die kombuisvloer gesit het met ʼn wond aan sy hand en sy vrou se liggaam wat langs hom op die vloer gelê het. Sy vrou se bloed is op die denimbroek wat hy die aand van die moord aangehad het gevind.

Van Vuuren kan teen die vonnis appelleer. Sy borgtog is verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.