Man lewend begrawe op Kaapse strand

ʼn Man het oorleef nadat hy lewendig begrawe is op ʼn strand in Kaapstad, ʼn dag nadat hy ontvoer is.

Volgens die Stad Kaapstad se woordvoerder vir veiligheid en sekuriteit, Richard Bosman, is die man en sy twee vriende Dinsdag in Macassar deur onbekende mans in ʼn Toyota Quantum bussie ingedwing en na ʼn nabygeleë strand geneem. Die mans is toe glo gedwing om hul eie grafte op die strand te grou. Bosman sê twee van die mans het daarin geslaag om weg te kom en het twee patrollie-voertuie, wat in die Wolfgat Natuurreservaat gepatrolleer het, vertel wat gebeur het. Die patrollie-voertuie het na die strand gehaas waar hulle die derde man gevind het waar hy regop in die sand begrawe was en ʼn klip op sy kop geplaas is. Bosman sê die ontvoerders het moontlik gehoop dat die gety sou inkom en die man sou verdrink. Die man is na die Mitchells Plein hospitaal geneem vir behandeling. Die motief vir die ontvoering is nog nie bekend nie. Bosman sê drie mans is later in hegtenis geneem nadat hulle in die area rondom die Wolfgat Natuurreservaat gevind is waar hulle weggekruip het. Die verdagtes word aangekla van ontvoering en poging tot moord. Die polisie is op soek na nog verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.